Dit smaak my hoe ouer ons raak, hoe vinniger gaan die tyd verby. Seënwense vir die Nuwe Jaar! Ons wil graag hierdie dagstukkie met u deel:
Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees ...
Maleági 4:2
In tye wanneer ’n Christen wonde in sy / haar binneste dra, is tye dat ’n mens dan duisternis in jou hart ervaar, saam met frustrasie en ’n onsekerheid wat diep seermaak. Nie een van ons sal doelbewus iemand anders, of onsself skade aandoen nie, maar moeilike omstandighede veroorsaak dikwels vreemde optrede en reaksies.
Ons het onlangs die Kerstyd gevier. In dié tyd het ons weer die rede waarom Jesus na die aarde gekom het, herdenk. Ja, Hy het gekom om die duisternis van sonde weg te neem en lig te bring en verlossing. Hy het gekom om elke hart wat deur sonde gebreek en verlei is, heel te maak.
Hy toon ook aan Sy kinders wat pyn en stryd ondervind, hoe om vry te kom om Hom in vryheid en vreugde te dien.
Kinders van God ly dikwels neerlae in hul geestelike lewe omdat hulle hul steeds vashou aan gewoontes wat hulle gedoen of die manier wat hulle gepraat het en nie kan sien om dit af te lê nie. Kan ’n kind van die Here duisternis in sy innerlike wese ervaar nadat hy wedergebore is? Verseker, indien hy nie die Heilige Gees toelaat om dié dinge wat die duisternis veroorsaak, met wortel en tak uit te roei nie.
Hoe raak ek bewus van hierdie struikelblokke wat my vrede en lig steel? Deur die werking van die Heilige Gees. U weet mos, daardie sagte stem hier diep in jou hart, wat vir jou sê: "Los dit!" of "Moenie!" of "Bly stil."
Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.
Hebreërs 4:12
’n Nuwe Lewende Vertaling: "As God vir ons iets sê, het dit lewe en krag. Sy Woord is skerper as ’n vlymskerp swaard wat tot in murg en been sny, want dit dring in die siel en gees van ’n mens en wys hoe sy diepste begeertes en gedagtes lyk. Hier is dit met God wat ons te doen het. Daar is nie ’n ding wat vir Hom weggesteek kan word nie. Hy sien alles asof dit oop en bloot voor Hom oopgesprei is."
Luister na Sy stem, gehoorsaam Sy opdrag en Hy sal jou gees, siel en liggaam genees.
Kom ons kyk terug na wat met ons webtuiste in 2024 gebeur het. Ek wil in alle nederigheid die volgende statistiek met u deel. Onthou alle eer kom die Here toe en hierdie werk is om Sy koninkryk uit te brei: