Seënwense vir die Nuwe Jaar! Ons wil graag hierdie dagstukkie met u deel:
43 Daarop sê hy (Elia) vir sy dienaar: Klim tog op, kyk uit na die see. En hy het opgeklim en uitgekyk en geroep: Daar is niks nie. Toe sê hy: Gaan weer--sewe maal.
44 En die sewende maal roep hy: Daar gaan 'n wolkie soos 'n man se hand op uit die see...
1 Konings 18:43-44
Dit het vir 3 jaar nie gereën nie nogtans was Elia in sy hart oortuig dat die Here Sy belofte sou nakom wat Hy aan hom gegee het.
1 En geruime tyd daarna het die woord van die HERE in die derde jaar tot Elía gekom en gesê: Gaan heen, vertoon jou aan Agab, dan wil Ek reën gee op die aarde.
1 Konings 18:1
Ons ontvang hierdie tyd van die jaar mooi boodskappe van vriende. Een boodskap het gelui: "Faith is not simply believing that God CAN, it is knowing that He WILL."
Dikwels word ons ongeduldig wanneer ons gebede skynbaar onbeantwoord word.
1 En Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel met die oog daarop dat 'n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie...
Lukas 18:1
Engelse vertaling: "That men always ought to pray and not loose heart."
Toe Elia se dienskneg terugkeer met die nuus dat 'n wolkie soos 'n mens se hand verskyn het, was Elia opgewonde - "God het my gebed verhoor!" Ja, 'n klein, klein wolkie was dit verseker, maar dit was groot genoeg om Elia te laat weet dat God reën, baie reën, gaan stuur.
Met ons voete reeds een tree in die nuwe jaar, mag u en ek vandag genade vind om God net so kinderlik te glo en vertrou.
Moontlik kan u getuig van 'n gebed of gebede waarvoor u reeds vir geruime tyd wag op 'n antwoord. Sal u vandag met geloof in u hart sê: "Here! Ek sien 'n klein wolkie oor die see opkom." God se beloftes is daardie "wolkie".
Dikwels wanneer ons oor 'n saak bid, kom daar vrede in ons hart of dit voel asof 'n lig in ons harte skyn; sien dan die "wolkie wat oor die see opkom."
Indien u voel asof u die nuwe jaar begin met 'n swaarte in u hart rondom 'n saak, so asof u in 'n put geval het. Dit is nie sonde om in 'n put te beland (geestelik) nie, maar moenie die put u tuiste maak nie! Kyk na Sy beloftes en vra die Heilige Gees vir genade om u geestelike oë na Hom te draai.
Voel u skuldig oor iets wat gebeur of 'n sonde wat tussen u en God staan?
7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.
1 Johannes 1:7
Moenie twyfel aan Sy Woord nie. Staan op en begroet die Nuwe Jaar vol geloof in God. Hy kan en Hy wil u verlos en dit is Sy begeerte dat u 'n nuwe, noue verhouding met Hom sal lewe, dag na dag.
Mag God ons elkeen seën en dra in die nuwe jaar en dat ons die "klein wolkies" sal raaksien, maar ook die swaarbelaaide wolke van seëninge uit Sy hand. Soms begin dit met 'n "klein wolkie".
Kom ons kyk terug na wat met ons webtuiste in 2023 gebeur het. Ek wil in alle nederigheid die volgende statistiek met u deel. Onthou alle eer kom die Here toe en hierdie werk is om Sy koninkryk uit te brei: