Vervulling Met Die Heilige Gees

Die vervulling met die Heilige Gees verleen aan jou 'n oorwinnende lewe ooreenkomstig die nuwe natuur van Christus waarmee Hy jou beklee. Dit verskil radikaal van die ou, vleeslikelewe wat jou in 'n onvrugbare bestaan van sonde en neerlaag vasgekluister wil hou.

Dit is die wil van God

Die vervulling met die Heilige Gees is die wil van God vir sy kinders (Efésiërs 5:17-18; 1 Thessalonicense 4:3, 7-8). Dit is 'n noodsaaklike ondervinding in die lewe van die kind van God. Daardeur ontvang jy die krag om Satan en versoekings te oorwin, en om 'n oortuigende getuie vir Christus te wees (Handelinge. 1 :8).

As 'n kind van die Here kom jy op 'n plek in jou geestelike lewe waar jy na 'n lewe van oorwinning hunker. Jy wil nie aan versoekings toegee nie, maar tóg doen jy dit. Jy wil 'n getuie vir Christus wees, maar is kragteloos en sonder vrymoedigheid. Jou geestelike lewe is 'n frustrasie. Dit voel vir jou of jy twee lewens leef.

Nota: Begeertes van die Gees en begeertes van die vlees word aan dieregterkant gelys.

Die oplossing vir jou probleem lê daarin dat die Heilige Gees volle beheer oor jou lewe sal verkry. Hy moet jou persoonlike instaatsteller word (1 Petrus 1:2). Die groot vraag is nou: Hoe moet ek met die Gees vervul word? Drie sleutelbegrippe is hier van belang, nl. reinigingoorgawe en geloof.

Stappe wat gevolg moet word

Die volgende stappe moet gevolg word om deur die Heilige Gees vervul te word:

Reiniging

Volgens Romeine 7:20 is dit juis die sonde wat in jou woon, wat tot gevolg het dat jy nie 'n oorwinnende lewe kan lei nie. Die antwoord op alle sonde is reiniging deur die Here Jesus:

...die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.

1 Johannes 1:7

As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

1 Johannes 1:9

Vra die Here in 'n eenvoudige gebed om jou van alle sondes en ongeregtigheid te reinig. Maak baie seker dat daar geen sondige gewoonte of gesindheid is wat jy nog in jou lewe herberg nie. Jesus wil jou volkome reinig deur sy bloed.

Algehele oorgawe

Gee jou lewe algeheel aan die Here oor. Van nature draai elke mens se lewe net om homself en sy eie belange - hy lei dus 'n selfgesentreerde lewe. Om met die Heilige Gees vervul te word, beteken om Christusgesentreerd te raak. Doen 'n eenvoudige gebed waarin jy jou hele lewe aan God oorgee.

Geloof

Plaas jou heel hartige vertroue vir jou reiniging in die Here Jesus se verlossingswerk. Vertrou volkome op die liefdevolle God wat jou offer aanneem wanneer jy jouself geheel en al aan Hom oorgee. Glo dat Hy 'n lewe wat Hy gereinig het en wat aan Hom oorgegee is, ook sal vervul. Stel jou vertroue in sy beloftes, selfs al voel jy niks nie:

As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?

Lukas 11:13

Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo.

Johannes 7:38-39

Die vervulling met die Heilige Gees is onmisbaar in elke kind van God se lewe. Hy sal jou die krag gee om oor die hartstogte en begeerlikhede van die vlees te triomfeer, sodat jy tot eer van die Here 'n skoon en toegewyde lewe kan lei

Begeertes van die Gees

Begeertes van die vlees

Want die goeie wat ek wil, dit doen ek nie...

Romeine 7:19

...maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.

Romeine 7:19
  • Liefde,
  • Blydskap,
  • Vrede,
  • Lankmoedigheid,
  • Sagmoedigheid,
  • Selfbeheersing,
  • Goedheid,
  • Getrouheid.
  • Jaloesie,
  • Liefdeloos teenoor ander,
  • Liefdeloos teenoor God,
  • Skuldgevoelens,
  • Bekommernis,
  • Ongehoorsaamheid,
  • Onrein gedagtes,
  • Kritiese gesindheid.