Ds. Johan Botha

Ds. Johan Botha

Ds. Johan Botha is op 6 Oktober 1956 in Beaufort-Wes in die Kaapprovinsie gebore, waar hy meeste van sy vroeë kinderjare deurgebring het. Op vyfjarige ouderdom verhuis sy ouers na Pretoria, waar hy dan ook sy skoolloopbaan begin en in 1974 vanuit die Hoërskool CR Swart matrikuleer.

Hy het twee jaar diensplig in 1975 tot 1976 in die Militêre Polisie te Wonderboom Lughawe en in Walvisbaai voltooi. Na sy diensplig word hy as 'n klerk deur die Suid-Afrikaanse Vervoerdienste in diens geneem waar hy tot in 1985 werk.

In 1981 is hy met sy vrou, Flippie, getroud en het hulle albei twee jaar later in 1983, 'n maand uit mekaar, tot bekering gekom. Die Here het hulle geroep vir Sy voltydse diens, en in 1986 is hulle Kweekskool toe waar hy sy teologiese studies in 1990 voltooi.

Hy word dan ook aan die einde van 1990 bevestig in sy eerste gemeente in Springs aan die Oos-Rand. Hulle het 5 jaar in Springs gemeente gedien, daarna 7 jaar in die George gemeente en byna 7 jaar in die Wonderboom gemeente in Pretoria.

Vanaf 2009 bedien Ds. en Mev. Botha, met hul enigste seun Brink, die Pretoria-Oos gemeente. Die EG Kerk se Kweekskool Studente en Dosente val ook onder hulle pastorale en geestelike leiding. Ds. Botha dien self op die Kuratorium, Fakulteit en Beheerraad van die Kweekskool. Hy is ook betrokke by drie Afrikaanse Christelike Televisie programme op die "KruisKyk" kanaal.

Op 'n meer persoonlike vlak het Ds. Botha 'n groot liefde vir Golf en Hengel. In 1983 verteenwoordig hy Suid-Afrika as deel van die Springbok-hengelspan in Duitsland.